Bekendstelling

Aangename Kennis

Wees gegroet in die Wonderlike naam van Jesus Christus!

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (EG Kerk SA) is ‘n lewenskragtige Evangeliese kerk wat op ‘n Gereformeerde grondslag berus. Moontlik het u nog nooit met die Kerk kennis gemaak nie. Dit mag selfs wees dat u nog nooit van die Kerk gehoor het nie. Deur verdraaide of gebrekkige inligting mag dit wees dat u ‘n verkeerde begrip omtrent die Kerk.

Die EG Kerk SA reik die hand van vriendskap en welwillendheid na elke Christus-belydende Kerk. Hierdie Kerk distansieer hom geheel en al van die Wêreldraad van Kerke sowel as die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en alle ander affiliasies van genoemde rade.

Ons beskou dit as ‘n besondere voorreg om u langs hierdie weg in te lig en beter kennis te laat maak met die EG Kerk SA.

EG Kerk SA Bekendstellingsvideo

Kyk gerus na die bekendstellingsvideo of slaan oor om deur die geskrewe bekendstelling te blaai

Die Leuse van die Kerk

SO SÊ DIE HERE

1 Sam. 7:12 Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die Here ons gehelp.​

Ontstaan van die Kerk

Op 21 April 2024 het die EG Kerk SA sy 80ste jaar van bestaan herdenk – 80 jaar van genade met ‘n besondere doel. Dit was op hierdie datum in 1944 waarop die geboorte van ‘n nuwe kerk vriend en vyand verras het.

Die kerk is gestig op 21 April 1944, onder die naam Nuwe Protestantse Kerk in Afrika, deur twee derdes van die kerkraad van die N.G. Kerk in Smithstraat, Durban.

Die naam van die kerk is egter in 1986 verander na Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.

Die Moderatuur van die Kerk in die kansel van N.G. Kerk, Smithstraat, Durban, tydens hulle besoek aldaar in 2019 tydens die herdenking van die Kerk se 75ste bestaansjaar.

Vir die kinders van God was dit nie so uit die bloute as vir ongereddes nie.  Reeds ‘n geruime tyd was daar ‘n sug in die harte van hulle wat God wou dien sonder om vervolg te word.  Daarom het hierdie stigting weerklank gevind in die harte van diesulkes dwarsdeur die land; selfs oorsee was daar Christene wat belang gestel het in die gebeure.

Voor die stigting van die kerk was daar ‘n tydperk wat gekenmerk was deur ‘n gees van vernuwing en herlewing.  Daar was plekke waar daar inderdaad herlewing ondervind was in S.A.  Baie mense is gedurende hierdie tyd gered.  Verskeie predikers in S.A., sowel as oorsee en interkerklike bewegings, is kragtig deur God gebruik in die land.

Mense wat in hierdie tyd die lig van verlossing deelagtig geword het, het met blydskap en vuur die Here begin dien in die kerke waaraan hulle behoort het.  In plaas van dat hierdie mense ontvang, aangemoedig en geestelik versorg is, is hulle teëgestaan, vervolg, verwerp en verstrooi.

Met die stigting van die kerk is baie van hierdie gelowiges skielik onder een dak saamgebring.

Omdat hierdie Christene in hulle harte gereformeerd georiëteerd was en nie gevoel het om hulle heenkome, soos ander, in kerke te vind wat nie die gereformeerde belydenis huldig nie, was die ontstaan van ‘n kerk met ‘n Gereformeerde belydenis vir hulle ‘n voorsiening vanuit die hemel.  Hierdie gelowiges was nie net Gereformeerd georiënteerd nie, maar het ‘n sterk evangeliese gevoel gehad.  Daarom was die ontstaan van die Nuwe Protestantse Kerk ‘n tuiste vir Evangelies-Gereformeerde gelowiges in S.A.

Deur die jare het talle gelowiges hulle weg na hierdie kerk gevind.  Talle verlore siele kon deur die Evangelies-Gereformeerde prediking van verlossing hoor en sodoende ook gered word.

Een van die doelstellings van die kerk by haar stigting was om die protestantse beginsels te beskerm en met nuwe krag uit te lewe en te verkondig.  Daar moes ‘n voortdurende vernuwing en nuutheid en varsheid van belydenis, ondervinding en boodskap wees.

Protestantisme moes ‘n nuwe dimensie kry en nie net beskou word as ‘n teenstelling met Rooms-Katalosisme nie, maar ‘n voortdurende, tydgenootlike protes teen die gees van die tyd, sonde, dooie formalisme, vervalsing, afvalligheid en dwaalleringe soos wat die Kerkhervormers geprotesteer het teen die misbruike van hulle tyd.

Die Kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God.

Die leer wat die Kerk, op grond van God’s Woord bely, is Evangelies-Gereformeerd en dit word uitgedruk in sy evangeliese belydenis en ook die Gereformeerde belydenisskrifte, naamlik die drie Formuliere van Enigheid en die Evangeliese Belydenis.

Die Kerk aanvaar die Formuliere as ondergeskik aan die Woord van God.

Boodskap van die Kerk

Tereg kan ons met die apostel Paulus gesê word: “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as die gekruisigde”. Die kruisboodskap wat deur die Kerk uitgedra word sluit die volgende in:

Jesus Red

Die verlossing en redding van verlore sondaars (Ef. 1:7) en dat ‘n mens in hierdie lewe sekerheid van saligheid kan bekom (1 Joh. 5:13)

Jesus Reinig

Die vervulling met die Heilige Gees (Ef. 5:18) en Heiligmaking wat die wil van God is vir Sy kinders (1 Thess. 4:7,8)

Jesus Genees

Die Genesing van die liggaam op grond van die Versoening van Christus Jesus (Matt. 8:17,18)

Jesus Kom Weer

Die persoonlike Wederkoms van Jesus voor die 1000 jarige Vrederyk (Openb. 19,20)

Sakramente

Die Doop

Die doop word bedien deur besprinkeling aan kinders van gelowige ouers en aan ongedoopte volwassenes nadat hulle belydenis van geloof afgelê het. Die kerk glo dat die doop nie ‘n mens kan red nie, maar dat dit heenwys na die afwassing van sondes deur die bloed van die Here Jesus.

Die Nagmaal

Die Nagmaal is bedoel om deur kinders van die Here gebruik te word om saam die dood van die Here Jesus te herdenk.  Die Nagmaal word egter nie aan kinders bedien alvorens Kategese afgehandel is en hulle voorgestel en aangeneem is lidmate van die Kerk nie.

Aanbidding

Kenmerkend van die vorm van aanbidding is dat dit ordelik, meelewend en onder leiding van die Heilige Gees geskied. God staan sentraal in hierdie vorm van aanbidding, want aan Hom kom toe al die waardering, lofprysing en dank in die erediens terwyl die mens sekondêr is.

Eredienste

Die Kerk beskou die bywoning van eredienste as uiters belangrik, enersyds om lidmate in die geloof te versterk

Oggenddienste

Tydens die oggenddienste word geestelike liedere gesing uit Skrifberymings, Psalms, Gesange, Hallelujaliedere, Liedboek van die Kerk en ander geestelike liedere.

Die voorlees van die Wet, of die samevatting daarvan, asook die lees van die Geloofsbelydenis word in die ritus van die erediens ingesluit.

Aanddienste

Die aanddienste word gekenmerk deur vurige evangeliese boodskappe wat gerig word tot verlorenes om diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te lei tot sekerheid van saligheid.

Ook word tydens die aandddienste geestelike liedere gesing uit Skrifberymings, Psalms, Gesange, Hallelujaliedere, Liedboek van die Kerk en ander geestelike liedere.

Predikante

Die EG Kerk SA beskik oor ‘n eie Teologiese Seminarie waar predikante vir die bediening opgelei word. Persone met ‘n duidelike getuienis van Wedergeboorte en Roeping word tot die Seminarie toegelaat.

Die minimum akademiese vereiste is matriek en die opleiding duur vyf jaar.

Die predikante van die Kerk het deur die jare wat verby is gestrewe om met groot omsigtigheid en waaksaamheid die fundamentele en behoudende benadering van skrifinterpretasie te huldig en te verdedig.

Nasionale Kerkkantoor

Die EG Kerk SA beskik oor ‘n nasionale kerkkantoor:

Die Saakgelastigde:
Ds. J.P. Gates
072 583 5780 (Selfoon)
egkskas@gmail.com
egkskas@mweb.co.za

Fisiese adres:
Brugstraat 1
Heidelberg, 1438
Gauteng

Posadres:
Geen, maak asb. gebruik van bostaande e-posadres.

Telefoniese navrae:
016 341 3194 (Kantoor)