Die Kerk stel hom ten doel om:
* Die Drie-Enige God te verheerlik en sy Koninkryk uit te brei.
* Die suiwere vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in krag van die Heilige Gees te verkondig – die doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, nl. om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hul verhouding met God reg te stel, waarna ‘n veranderde hart en nuwe lewe lei dan noodwendig tot ‘n horisontale versoening en ‘n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
* Voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap, om daardeur te waak teen verval in dooie formalisme. Leersuiwerheid moet gepaard gaan met egte lewensvroomheid.
* Om hom te beywer vir die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur die kinders van die Here op te roep tot ware Bybelse Heiligmaking en Vervulling met die Heilige Gees en so to te rus vir hulle dienswerk.
* Om as Kerk dinamies te wees vir tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
* Om ‘n ware tuiste te wees vir evangeliesgesinde gelowiges, wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in ‘n Evangeliese-Gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
* Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy/haar besondere gawes te werk vir uitbreiding van die Koninkryk van God in die wêreld, d.w.s. ‘n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
* Om die gemeente in die algemeen en in elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling en toegespitste ampsbediening van Leraar en Kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
* Om die getroue toepassing van die norme van die Woord van God te handhaaf.
* Die Bybel is die onfeilbare en ewige Woord van God en is woordeliks geïnspireer.
* God is enig in Wese en tog onderskeie in drie Persone, nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
* Jesus is die ewige en enige Seun van God, wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
* Die mens is van nature in ‘n vervalle toestand. Sy totale verdorwenheid en onvermoë tot geestelike deugde maak Wedergeboorte noodsaaklik om die Koninkryk van God te kan beërwe.
* Die verlore sondaar kan redding uit sy verlore toestand alleen deur die genade bekom, deur geloof in die plaasvervangende dood en die gegote bloed van Jesus Christus ons Heer, opgestane Heiland en Verlosser.
* ‘n Persoon moet deur belydenis en bekering van sonde Jesus Christus bewustelik aanneem as persoonlike Saligmaker en Verlosser, waar God die werk van Wedergeboorte in die hart van die mens doen, sodat hy hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is dus ‘n daad wat God doen op grond van die Versoeningsbloed van Christus, wat die mens bewustelik in hierdie lewe ondervind en waardeur hy sekerheid van saligheid ontvang.
* Die Vervulling met die Heilige Gees vir die kind van die God is noodsaaklik. Dit stel hom/haar instaat om heilig en oorwinnend te lewe asook om vir God te getuig en siele vir Christus te wen – d.i. die ampsbediening van die gelowige.
* Die ware Kerk, die liggaam van Christus, bestaan uit almal wat weergebore is oor die ganse wêreld, van watter taal, land of nasie hulle ook mag wees. Daarom mag alleen hulle wat lede van hierdie Kerk is as lidmate van die Gemeente en so van die Kerkgenootskap toegelaat word.
* Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir Sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
* Christus se groot sendingopdrag aan sy Kerk, “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom”, moet gehoorsaam word deur plaaslike en wêreldwye evangelisasie.
* Die persoonlike Wederkoms van Jesus Christus voor die 1000 jarige Vrederyk word bely. (Die Wederkoms van Christus geskied in twee fases. By die eerste fase, wat net tot in die lug sal wees, kom Jesus sy kinders wegneem. By die tweede fase kom Hy tot op die aarde om hier saam met sy heiliges te regeer). Hierdie beskouing van die Wederkoms staan bekend as Chiliasme.
* Die Kerk bely die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en vreugde in die hemel en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf – die poel van vuur.
Wat die toekoms aanbetref, solank as wat die Heer vertoef om te kom, stel die Kerk hom ten doel om met alle ywer en deernis op te tree teen allerlei vreemde en bedenklike religieuse verskynsels wat simptomaties is van die huidige tyd van godsdienstige verwarring en verval.
Daarom word lidmate van die Kerk terdeë ingelig en gewaarsku teen hierdie verskynsel en moderne teologië soos hulle van tyd tot tyd op die horison verskyn.
Met groot beskeidenheid kan gesê word dat op hoogte gebly word met verwikkelinge en gebeure op die wêreldfront ten einde raad en leiding te bied op geestelike gebied teen verleidende geeste wat miljoene mislei in die laaste dae vlak voor die Wederkoms van Christus.
Artikel 1 in die Kerkorde begin met … Die Naam van die Kerk sal wees: Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Dié Naam identifiseer die kerk as uniek, naamlik Evangelies van aard en karakter, gebou op die Gereformeerde grondslag (leer).
Volgens die Kerkorde is die kerk gefundeer op die Heilige Skrif, die Woord van God en dit word uitgedruk in die Evangeliese Belydenis en die Gereformeerde Belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 nl. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls (Kerkorde Artikel 3).
Vierhonderd jaar gelede was die Gereformeerde leer op die Here se bestemde tyd in die geskiedenis tydens die Sinode van Dordrecht 1618-1619 beslis deur die Sinode met die begeerte om ʼn grondslag daar te stel, van goeie orde in die huis van die Here, met goeie vaste beginsels tot verklaring en verkondiging van die Woord van die Here.
In ’n voorwoord van Calvyn se Franse uitgawe van die Institusie in 1545 skryf prof. Engelbrecht: “Alhoewel die Heilige Skrif die volkome leer bevat, waaraan niks toegevoeg kan word nie, besit elkeen wat nie bekend daarmee is nie, die behoefte vir ʼn sekere gids en rigtingwyser om aan te toon waaroor hy in die Heilige Skrif moet kyk, sodat hy nie heen en weer sal dwaal nie, maar in ʼn sekere pad sal volg om sodoende die doel te bereik waartoe die Heilige Skrif hom uitnooi. Hierdie boek (Institusie) is ʼn soort sleutel wat vir al die kinders van God ʼn regte deur oopmaak om die Heilige Boek beter te verstaan”.
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika verduidelik in die Evangeliese Belydenis en die Gereformeerde Belydenisskrifte haar vertolking van die Woord aangaande haar leerstellings aangaande wedergeboorte, heiligmaking, genesing en die wederkoms. Die invloed van die Gereformeerde leer laat ons fokus op die Sinode van Dordrecht, 1618-1619.
In daardie tyd was daar ʼn groep, die sogenaamde Remonstrante, wat haatlik en eensydige voorstellings teen die reeds gevormde gereformeerde leer opgetrek het met vyf artikels van belang. Hierteenoor het die gereformeerdes, die Kontra-Remonstrante ʼn remonstransie, ʼn teenbetoog, ingedien wat uitgeloop het op die geskiedkundige Sinode van Dordrecht.
Die doel van Gereformeerdheid, Gereformeerdes, die Protestante (Protestantisme teenoor Rooms- Katolisisme), was daarop gefokus dat na die Woord van God, opnuut gevorm of hervorm, teruggekeer moes word, weg van die dwaalleer uit die Donker Middeleeue met die Rooms-Katolieke Kerk as inisieerder. Ten spyte hiervan was daar ook in eie geledere stryd tussen navolgers van Arminius (Arminiane) wat die Remonstrante groep gevorm het, en die “Gereformeerdes”, die Kontra-Remonstrante. Tydens die sinodesitting te Dordrecht (1618-1619) het die Gereformeerdes die Remonstrante se leer verwerp met die opstel van die vyf beginsels van Calvinisme, “Die Dordtse Leerreëls”.
Ds. Johannes Bogerman lei die vergadering van afgevaardigdes naamlik predikante, ouderlinge, akademici, politieke kommissarisse en buitelandse afgevaardigdes, almal teoloë, en open die Sinode van Dordrecht op 13 November 1618.
Dertien vername leiers van die Remonstrante was opgeroep om voor die sinode te verskyn. Die leiers het eers op 6 Desember 1618 opgedaag. Voor die aankoms van die leiers het die Sinodesitting sake soos die Bybelvertaling, Kategismus prediking, onderrig, doop en opleiding hanteer.
Die Remonstrante het met ’n buitensporige demonstrasie van grootdoenerigheid met Simon Episcopius as hul leier by die sinodesitting opgedaag. Na die verwelkoming deur die voorsitter, ds. Bogerman, spreek Episcopius met opgehewe hande die seënbede, soos tydens ʼn erediens, uit. Tydens sy spreekbeurt lewer Episcopius ʼn briljante rede. Alhoewel sy rede briljant was, was hy venynige teenoor die Gereformeerdes, die Kontra-Remonstrante. Gemoedere het opgevlam aangesien die Remonstrante op allerlei maniere probeer het om die werk van die vergadering te bemoeilik en geweier het om hulle aan die gesag van die vergadering te onderwerp. Die geduld van die voorsitter het opgeraak en hy verloor sy humeur. Met ’n sterk stem vanuit die voorsitterstoel sê hy vir die Remonstrante “Gaan weg! Uit!”. Nadat die Remonstrante die sinodesitting verlaat het, het die sinode die “Vyf artikels teen die Remonstrante” opgestel, die sogenaamde “Die Dordtse Leerreëls”.
Behalwe ’n nuwe Belydenisskrif, Die Dordtse Leerreëls, was die Dordtse Sinode ook ʼn toetsing vir die ander twee bestaande Belydenisskrifte naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis opgestel in 1561 asook die Heidelbergse Kategismus opgestel in 1563.
Die gevolg van die sinodesitting te Dordrecht word uitgedruk in die bevestiging en vestiging van die Gereformeerde leer soos tot vandag toe nog saamgevat in die drie Formuliere van Enigheid. Ander uitkomste van hierdie Sinode is die Dordtse Kerkorde, ʼn kerkregering volgens die Bybel en ʼn nuwe Bybel vertaling, die bekende Statebybel, wat deur die Afrikaanse voorgeslag gebruik was.
Vierhonderd jaar gelede het die Here toegelaat dat tydens die sinodesitting van Dordrecht ʼn gereformeerde erfenis ontstaan het. ʼn Erfenis waarvan die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika deel uitmaak, ’n erfenis met ʼn Evangeliese karakter, gebou op die Gereformeerde grondslag met die leuse “So sê die Here”. Vir hierdie Erfenis behoort die kerk baie dankbaar te wees. ʼn Erfenis waardeur die Goeie Nuus van Jesus oral en aan almal versprei word. ʼn Erfenis met Jesus Christus as die enigste Redder en Verlosser deur wedergeboorte, waarna Sy kinders geheilig word om al meer na Sy beeld te verander, met die oog na bowe in afwagting vir koms van Jesus, letterlik, net soos die ewige onveranderlike Woord van God ons dit leer!
[1] d’Assonville, E. 1992. Gids vir Kerkgeskiedenis. Potchefstroom: MARNIX – EFJS
[2] Dowley, 1988. Die Geskiedenis van die Christendom. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
[3] Du Toit, 1970. Handleiding vir die studie van die Kerkgeskiedenis. Potchefstroom: Potchefstroom Harald (Edms.) Bpk.
[4] Engelbrecht, J. 1979. Temas rondom die Reformasie. Pretoria: NHW-Pers.
[5] Kerkorde van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. 2016.