Betshan – Tuiste van God se Geroepenes
Op 28 Februarie 1945, nagenoeg ‘n jaar na die stigting van ons geliefde kerk, het God in Sy groot genade en voorsienigheid, die Kerk vertrou om self geroepenes op te lei. Nadat leraars hoofsaaklik vanuit die geledere van die ou Betshan-inrigting te Bloemfontein, die AEB Bybelskool en andere opgelei is, het die pasgestigte Kerk hierdie baie belangrike deel van die werk self begin bedryf.
Betshan dateer vanaf einde Februarie 1935 toe wyle ds. Scheepers sy gemeentelike bediening verlaat het om ‘n beweging – die Betshanbeweging – te begin waar krankes, vanuit die Woord onderrig is. In 1936 is ‘n Bybelskool op die terrein begin vanwaar geestelike werkers die land ingestuur is.
Ongeveer ‘n maand na die afsterwe van ds. Scheepers is die Betshanterrein aan die nuwe Kerk oorgedra. Die opleiding van geestelike werkers/leraars sou voortaan onder die vaandel van die Murray Bybel Instituut, geskied onder leiding van dr. D.J. de Vos en sy broer, ds. J.F. de Vos. Weens onvermydelike omstandighede was die Kweekskool in ‘n stadium gesluit (einde 1947), maar na die heropening in Februarie 1952 is die opleiding voortgesit onder die vaandel Die Nuwe Protestantse Kerk Kweekskool. Di. J.P. Prinsloo (prinsipaal) en P.J. van der Westhuizen was die dosente tot en met die Sinode van 1957.
Die Jare na Bloemfontein
Aan die einde van 1956, begin 1957, is die Kweekskool verskuif na Spaarwater, tussen Nigel en Heidelberg. Intussen is ds. en mev. S.J. Becker deur die Sinode van 1957 as prinsipaal en huisouers aangewys.
Die terrein wat aangekoop is, was deel van ‘n Goudmynontwikkeling. Die goudmyn het egter oorstroom en die ontwikkeling het gestaak. Met die aankoop van hierdie terrein het die Kerk in besit gekom van die myn se hospitaalkompleks en kon opleiding van leraars daar begin. Tydens die Sinode van 1960 is besluit dat die naam van die nuwe terrein ook Betshan sal wees.
Diehoofgebou wat aanvanklik net ‘n enkelverdieping was, is later opgebou tot ‘n dubbelverdieping. Afgesien van die opleiding van talle geroepenes, het Betshan die hart van Kerklike bedrywighede geword deur die jaarlikse Betshankonferensie, Sinodale vergaderings en ander kerklike funksies.
Behoefte na ‘n ander Terrein
Vanweë verskeie redes het die behoefte ontstaan na ‘n ander Kweekskoolterrein. In 1981 het die Sinode dan ook besluit om Betshan in die mark te sit. Onder leiding van die destydse prinsipaal, wyle ds. F.S. Coetzee, is begin om fondse in te samel onder lidmate en ander vrywillige donateurs.
Verskeie terreine is oorweeg, asook grond aangekoop te Rooihuiskraal, Centurion. Planne was gereed om met die bouprojek te begin toe God in Sy groot genade en voorsienigheid die huidige terrein beskik.
Nie net was dit God se voorsiening tot ‘n geweldige finansiële besparing vir die kerk nie, maar die terrein, bekend as Espada Ranch, was geskik tot die doel en vereistes van die Kerk. Na die aftrede van wyle ds. Coetzee, is die huidige terrein verbeter en ontwikkel onder die bekwame leiding van dr. Willie Kotzé. In 2005 is die nuwe Betshan in gebruik geneem.
Kurrikulum en Studietermyn
Die lengte van die leerplan oor die jare het gewissel. In 1956 is daar bv. besluit dat die termyn vir nie-vooraf gegradueerdes, vyf jaar sal wees en gegradueerdes se studietermyn drie jaar. Die algemene studietermyn vir ‘n aantal jare was drie jaar en later is dit vasgestel op vier jaar met ‘n vyfde jaar as ‘n praktiese jaar.
Studente deurloop ‘n Geestelike Werkerskursus, wat die eerste twee jaar van opleiding behels. Mans persone wat geroepe voel as leraars, kan daarna voortgaan na die derde en vierde jaar wat as die Predikantekursus bekend staan.
Vir ons voornemende predikantsvroue is daar ook ‘n Predikantevrouekursus wat deurloop word gedurende die derde en vierde jaar van hul mans se opleiding.
Kursusgroeperinge
Bybelkunde
Ou en Nuwe Testament, Inleiding tot Nuwe Testament, Bybelse argeologie en geografie, Hermeneutiek wat bestaan uit die belangrike aspek van verstaan en verklaring van die Skrif.
Dogmatiek
Bybelse leerstellinge, soos die leer oor God, Christus, die Heilige Gees, die Verlossingsleer, die leer oor sonde, die kerk, die uitverkiesingsleer, die mens, die skepping , die openbaring nl. die Bybel en die leer aangaande die eindtyd gebeure.
Praktiese Teologie
Vakke te doen met die bedieningspraktyke soos, praktiese teologie, kerkreg, missiologie, homiletiek (preekkunde), pastorale berading, evangelistiek, liturgiek, gebedsleer, Goddelike genesing en kinderevangelisasie.
Tale
Hellenistiese Grieks en Praktiese Afrikaans.
Kerkgeskiedenis
Algemene Kerkgeskiedenis, geskiedenis van eie kerk en Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis.
Voltydse dosente vanaf die begin jare was ds. J.F. De Vos (prinsipaal), mej. H. Mouton, di. J.P. Prinsloo (prinsipaal), P.J. van der Westhuizen, S.J. Becker (prinsipaal), A. Grobler, mev. L. Fourie, dr. H.E.W. Backeberg, di. H.O. Storm (prinsipaal), F.S. Coetzee (prinsipaal), drr. W.J. Kotzé (prinsipaal), E.J. Zevenster, C.K. Fourie, P.A. Rousseau, di. R.D. Beukes, F.S Smith, drr. J.D. Mienie, A.J. Bester (prinsipaal) en ds. W.M. Snyders.
Huidige doserende personeel is di. Jurg Prinsloo (prinsipaal), Wynand van Niekerk (vise prinsipaal), Woodford Kotzé en Jurgens Prinsloo.
Soos in die verlede wil ons voortgaan, om geestelike werkers, evangeliste en predikante op te lei vir die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
Ons opleiding het ten doel om studente toe te rus om effektief die ewige onfeilbare Woord van God te verkondig, herderlike sorg te verskaf en die nodige toerusting en motivering aan lidmate te bied, ons studente toe te rus, deur die instaatstelling van die Heilige Gees, om Jesus as die hart van die evangelie, te verkondig aan ‘n mensdom in nood.
Die Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk sien hul taak om die Kerk by te staan in die behoud van leer, karakter en doel waarvoor God ons as Kerk hier aan die Suidpunt van Afrika geplaas het.
Ons dank God vir die jare wat verby is – die jare waarin talle geroepenes opgelei is om die Woord van God te verkondig. God het deur die Kweekskool aan geroepenes die platform gebied om die evangelie in sy reine waarheid te verkondig.
Ons dank aan God vir leraars en werkers wat hul opleiding geëer en getrou gebly het aan dit wat aan hul oorgedra is met die besef dat dit alleen deur God se genade was.
Die Kweekskool wil steeds die voedingsbron van die EG Kerk SA se leraars en geestelike werkers wees, tot die dag van Sy verwagte wederkoms.
Saamgestel deur die prinsipaal, ds. J.P. Prinsloo (Feb. 2021)
Telefoniese Navrae
Mev. Mandi Prinsloo012 811 0484 (Kantoor)
Ds. Jurg Prinsloo083 302 6800 (Prinsipaal)
Fisiese Adres
Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika BetshanPlot 189Tiegerpoort, 0056
Posadres
Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-AfrikaPosbus 2444Zwavelpoort, 0036
E-Posadres
egkweekskool@gmail.com
Facebook-blad
https://www.facebook.com/EGKKweekskool